Die man skuifel verder terug op die sypaadjie en probeer skuil tussen die laag-hangende takke vol blare van 'n groot boom. Hy wil na die musiek luister sonder om die ander mense te pla of om te krap. Nie dat daar eintlik veel van 'n skare is nie. Die mense wat wel daar is, staan al klaar redelik vêr van hom af. 'n Lywige vrou in 'n rooi blommetjiesrok het hom juis netnou 'n verdoemende kyk oor haar ronde neus gegee.
''Mama, hoekom stink die oom so?''
''Dis omdat hy te sleg is om te werk en te lui is om te was. Kom, my kind, kom ons staan liewer daardie kant toe.''
Hy verstaan goed hoekom mense so teenoor hom optree. Hy het dit self ook in die verlede gedoen want 'n boemelaar se klere en 'n boemelaar se lyf kom nie so gereeld by water en seep uit nie. Dis nie dat hy nie wil nie - hy het net nie gereelde toegang tot sulke geriewe nie.
Die heilsleër se orkes het lanklaas hier opgetree maar dis altyd lekker vir hom om na hulle te luister. Hy hou van die beuels, trompette en die tromme se marsritme. Veral die groot trom se ritmiese slae. Hy kry sommer hoendervleis. Die hallelujalied wat hulle speel, ken hy. Wat was die liednommer in die gesangboek nou weer? Was dit nommer 175? Hy onthou nie meer so lekker nie maar sommige van die woorde is nog vars in sy geheue. Dit was sy gunsteling gesang vir huisgodsdiens toe hy nog 'n kind was. So lank gelede, so baie lank gelede...
Hy't baie keer wonder of die Here hom nog sal onthou en of hy met sy hartseer na Hom toe kan gaan. Hy't gewonder of die Here nie ook maar op 'n veilige afstand van hom sal staan en hom op en af sal kyk nie.
''Kerneels, Kerneels, wat het jy met jou lewe gemaak? Die lewe wat Ek aan jou geskenk het? Hoekom het jy die talente wat Ek aan jou toevertrou het loop staan en weggooi? As jy dit maar begrawe het, kon Ek jou dalk oorgesien het, maar nou...''
Dit was 'n baie koue wintersaand langs 'n vuur in 'n konka, wat net nie die byt uit die lug kon wegvat nie, toe hy die eerste keer sy hart teenoor die Here oopgemaak het.
''Ek weet, Here, ek weet ek kan nie eintlik vir U sorry sê nie want ek is lankal verby die besef dat die foute wat ek gemaak het, die kanse wat ek weggegooi en die lewe wat ek in die toilet afgespoel het, nie ongedaan gemaak kan word nie. Maar, as ek kan, Here, as ek so voorbarig kan wees om vir U 'n paar vrae te mag vra, nie oneerbiedig nie, Here, net om antwoorde te kry, dan sal ek U baie graag net wil vra oor Margrietha. Magrietha met haar sonskynglimlag en vonkelende bruin oë. My Magrietjie wat heeltemaal te vroeg van my weggeneem is, Here.''
Onder die boom, maak hy sy oë toe om beter na die musiek te luister. Sy gedagtes sweef weer terug na daardie snerpende aand langs die drom.
''Daardie tyd, Here, toe U sekerlik gesien het hoe swaar ek gekry het daar langs haar bed? Het U toe al my connection afgesny gehad omdat ek nie my account betaal het nie? Was dit al klaar ge-disconnect toe ek na U uitroep daar, langs haar siekbed? U moes tog sekerlik gesien het hoe verskriklik sy suffer - die pyn wat die lewe stukkie vir stukkie uit haar liggaam gedwing het? As U daar was, het U mos geweet van die trane op haar wange; trane van die helse seer van die kanker wat haar liggaam selletjie vir selletjie opgevreet het?''
Hy vee die nattigheid uit sy oë met 'n vuil, verweerde hand. Verwyt so bitter soos gal steek vas in sy keel.
''Was U dalk saam met die vername gaste by die opening van die nuwe kerk daar teen die bult? Het U ook dalk daar in die allemintige gebou met sy gallerye, verhoë en onthaalsaal gestaan en luister na die pragtige koorsang? Die plek was mos immers tot U eer opgerig. Die predikante was so besig met voorbereidings vir hul groot occasion, hulle kon nie tyd maak om ons huis te besoek nie. Daardie tyd toe my platinum medical aid ook in sy moer in was en Magrietha nie langer in die hospitaal kon bly nie. Ek moes haar huistoe vat. Daar was amper nie eers meer geld oor vir pynpille nie, Here. Die dokter wou nie meer kom nie want ek het al te veel geld geskuld. Dit was net daardie jong doktertjie van die staatshospitaal wat uit sy eie 'n draai kom maak het, en 'n keer of twee pille saamgebring het vir haar.''
Die orkes hou op met speel en 'n man tree na vore om voor te lees uit die Bybel. Die man onder die boom dink dat die voorleser heelwat important lyk in sy uniform en grys hare wat netjies gekam is, maar sy gedagtes dwaal weer na sy worstelstryd met die Here.
''U kan nie sê dat ek nie tot vervelens toe aan U deur kom klop het nie want ek het, Heer, ek het meer tyd op my knieë daar langs haar bed deurgebring as ooit tevore of daarna. Maar, U het doodstil gebly en my nie eers een keer net aan die skouer kom vat om my te troos nie. Toe is sy dood, en ek was bly vir haar want haar suffering was verby. Op daardie tydstip het die mense in die nuwe kerk teen die bult gesing en weet U, Here, ek het gewonder waarom sing hulle 'Prys die Heer' terwyl my Magrietjie van my weggevat is? Ek het nie verstaan nie, Heer, nie daardie tyd nie.
''Toe het ek U gevloek. Maar, dit was eers later, nadat ek alles wat ek oorgehad het - my huis, my bakkie en op die einde my werk ook - verloor het. Ek het geval en geval en in my bliksem in geval totdat ek in 'n flenter jas voor 'n vlammende konka met 'n skok wakker geword het. Toe ek niks meer oor het om aan vas te klou, toe ek self vuilgoed was, toe eers besef ek dit gaan nie vir U oor wie ek op die surface is nie. U kyk nie na my titel, sukses, my huis, my kar nie of die geld wat ek in die kerk se bordjie gooi nie. By U tel daardie goed glad nie.
''Dit gaan vir U oor wie ek as persoon is, hier binne-in, en wat ek op U manier elke dag vir andere kan wees, soos vir my Magrietjie, en die ander bums met wie ek dag vir dag moet deel.''
Die man in die uniform met die netjiese grys hare het klaar gepreek. Die Bybel is toegemaak. Die orkes speel iets wat die man onder die boom nie ken nie. Hulle sal nou-nou klaarmaak en daarom begin sukkel en skuifel hy solank met die straat op. Hy behoort vir ou Tom naby die poskantoor te kry - dis mos sy spot. Te veel winters van koudslaap en ontbering begin die afgelope tyd hul tol eis. Hy kan dit aanvoel in sy murg. Die ou bene kan skaars sy uitgeteerde lyf vorentoe dra.
Skrywer Johan J. Beyers woon sedert die sewentiger jare in Namibie. Hy skryf Afrikaanse kortverhale en is ook die outeur van 'n Engelse boek, The Kupferberg Mining Company, uitgegee deur Wordweaver Publishing House in 2013. Ons verpligting as lesers is om ons plaaslike skrywers te bemoedig en daarom is u welkom om vir Johan te laat weet hoe u voel oor hierdie kortverhaal: jbeyers@mweb.com.na .

Kom tot u Heer met al u verdriet
Kom nou na Hom wat redding u bied
Hy het Sy bloed vir sondaars vergiet
Kom nou...(hier onthou hy niks verder nie)
Heerlik heerlik sal die vreugdetoon
Eenmaal klink waar vrygekooptes woon
As ons vergader rondom U troon
Daar waar...

Comments
Post a Comment