Behalwe vir die vrees dat 'n onskuldige stokkielekker, die plastiek omhulsel van kaas of die doppie van 'n koeldrankbottel dalk daarmee besmet kan wees, is een van die min voordele van die koronawierus-inperking seker die vergunning van tyd om te lees. Ek het uiteindelik kans gekry om Suid-Afrikaanse joernalis, Pieter van Zyl, se Gert & Joey: Nuwe Lig op 'n Raaisel van Dertig Jaar (Zebra Press, 2018) onder o ë te neem. Die laat tagtigs, veral 1989 en 1990, was 'n onstuimige tyd vir suider Afrika; onherroeplike veranderinge was op hande, op alle vlakke. As 'n mens terugdink, is dit opvallend hoedat gebeure afspeel teen 'n agtergrond. Soveel het gebeur, of niks het gebeur nie, of kon gebeur, maar het nie. Dis seker ook maar hoe 'n mens se langtermyn geheue saamgestel is, met emosies, sodat 'n swart-en-wit foto van 'n skoolkind jou onmiddellik terugruk na 'n tydperk toe die waarheid goedkoop was en mense nie vatplek kon vind nie terwyl d...