Behalwe vir die vrees dat 'n onskuldige stokkielekker, die plastiek omhulsel van kaas of die doppie van 'n koeldrankbottel dalk daarmee besmet kan wees, is een van die min voordele van die koronawierus-inperking seker die vergunning van tyd om te lees. Ek het uiteindelik kans gekry om Suid-Afrikaanse joernalis, Pieter van Zyl, se Gert & Joey: Nuwe Lig op 'n Raaisel van Dertig Jaar (Zebra Press, 2018) onder oë te neem.
Die laat tagtigs, veral 1989 en 1990, was 'n onstuimige tyd vir suider Afrika; onherroeplike veranderinge was op hande, op alle vlakke. As 'n mens terugdink, is dit opvallend hoedat gebeure afspeel teen 'n agtergrond. Soveel het gebeur, of niks het gebeur nie, of kon gebeur, maar het nie. Dis seker ook maar hoe 'n mens se langtermyn geheue saamgestel is, met emosies, sodat 'n swart-en-wit foto van 'n skoolkind jou onmiddellik terugruk na 'n tydperk toe die waarheid goedkoop was en mense nie vatplek kon vind nie terwyl die storms van politieke omwenteling deur hierdie gebied gewoed het. Daardie gevoel van onsekerheid sal my geslag verewig by bly, en dis dan ook so met Gert van Rooyen en Joey Haarhoff, twee name wat nou nog in ons onderbewussyn spook.
Ek en my ma het altyd die Gert-en-Joey artikels in die Huisgenoot noukeurig gelees, en na elke artikel het sy my gevra om asseblief nie met vreemdelinge te gesels nie en nooit in onbekende motors te klim nie. Baie jare later het ek uiteindelik die gevolge van die Gert-en-Joey-sage besef. Die skade wat hulle berokken het was nie beperk tot hul gemeenskap en die kinders se families nie; gewone mense was ook van hul onskuld beroof en hul vertroue in hul medemens was vernietig.
Met alles wat besig was om daardie tyd te gebeur op die politieke vlak, was daar boonop ook nog hierdie tragedie om te verwerk, op 'n persoonlike vlak. Wat het van Tracey-Lee Scott-Crossley, Fiona Harvey, Joan Horn, Anne-marie Wapenaar, Odette Boucher en Yolanda Wessels geword? Foto's van hul vriendelike gesiggies, geneem in hul skoolklere, het gereeld in koerante en tydskrifte verskyn. Ek het ouer geword, deur die lewe gestruikel soos almal, maar daardie kinders lyk nog dieselfde, dertig jaar later. Dit was moeilik vir ons om te glo dat hulle die slagoffers van 'n gewetenlose pedofiel was. Dit was net so ongelooflik dat monsters soos Gert en Joey werklik bestaan het.
Tog, het hulle bestaan. Albei was ook kinders eens op 'n tyd, het dieselfde ouderdomme van hul slagoffers bereik, het getrou, kinders gekry, kleinkinders selfs, het vriende, familie en 'n verwronge liefde vir mekaar gehad. Hulle het alles gedoen wat hulle hul slagoffers ontneem het.
Die skrywer van die boek, Pieter van Zyl, was ''digby die Moot, vanwaar Gert van Rooyen en Joey Haarhoff glo op slagoffers jag gemaak het, gebore''. Gert en Joey het ook by Van Zyl gespook. In die eerste hoofstuk, genaamd Ek en Gert, vertel Pieter van Zyl hoe daardie gebeure, dertig jaar gelede, gelei het tot die skrywe van sy boek. Hy skryf van die bespiegelinge op Facebook-blaaie, op WhatsApp-groepe, hoe Gert van Rooyen se seuns in die bresse tree vir hul pa en die polisie blameer vir sy dood.
Ek het uit die staanspoor gehou van Pieter van Zyl se skryfstyl, veral wat hierdie onderwerp aanbetref. Hy is deurlopend saaklik en afsydig en die paragrawe is propvol inligting. Omdat die Gert-en-Joey-sage 'n hoogs emosionele onderwerp is en baie mense raak, soos die vermiste kinders se ouers, Gert en Joey se kinders, familielede aan albei kante, vriende en kennisse wat geen keuse gehad het nie maar alles moes beleef, het Van Zyl se skryfstyl goed hier gepas. Die belangrikste van alles, natuurlik, is dat hy waardevolle en bevredigende inligting in sy boek verskaf het. Hy het met Gert en Joey se kinders, vriende, familie, Gert se voormalige minnaresse, ooggetuies, die polisie, kenners, sielkundiges, ander joernaliste en selfs met sieners onderhoude gevoer.
Wat duidelik uit die boek na vore kom is dat die meeste mense wat hul stuiwers in die beurs gegooi het, net graag wou, en wil, help om die kinders op te spoor. Van Zyl se ervaring as joernalis het geskitter in die versigtige manier waarop hy te werk gegaan het om nie die ouers wat steeds hoop en glo hul kinders leef, te ontmoedig nie, en hy kom ook nie tot 'n gevolgtrekking nie. Hy gee slegs verslag aan sy lesers van alles wat tot op hede plaasgevind het want, nes vele ander, wil hy ook graag help.
Alhoewel die boek, oor die algemeen, goed gelees het, boeiend was en antwoorde verskaf het op vrae, was daar tog 'n paar goed wat my gepla het.
Een, ek was nie tevrede met die hoofstuk oor Joey Haarhoff nie. Dit was nie vir my so breedvoerig soos Gert s'n nie. Ek het die indruk gekry dat Pieter van Zyl nie oor genoeg inligting beskik het nie, wat Joey aanbetref. Dit kan wees dat sy regtig koud en kil teenoor almal was tot so 'n mate dat niemand haar regtig leer ken het nie maar, dis myns insiens, ongeloofwaardig. Joey was immers deel van 'n gesin, sy het familie gehad, sy was drie keer getroud, het kinders en vriende ook gehad. Die meeste inligting wat ek kon insamel oor haar persoonlikheid, was omvat in 'n brief aan haar ma en twee handskrifontleders se verslae.
Twee, ek weet Van Zyl het dit nie so bedoel nie (miskien?) maar, die kleurfoto van 'n stralende, gelukkige Gert en Joey op die voorblad van die boek (in teënstelling met die klein swart-en-wit foto's van die vermiste kinders), tesame met die eerste drie hoofstukke en die algehele inhoud van die boek, het by my die indruk gewek dat die boek se fokus merendeels op hul moordenaars was, en nie op die onskuldige slagoffers nie.
Verlede jaar, in 2019, het 'n aantal artikels aanlyn verskyn in verband met 'n kommerwekkende kultuur van heldeverering wat ontstaan rondom opspraakwekkende gewoontemisdadigers en reeksmoordenaars, veral nadat dit bekend gemaak was dat 'n nuwe reeks oor 'n Amerikaanse reeksmoordenaar op die aanlynstroomdiens, Netflix, vrygestel sou word om die reeksmoordenaar se teregstelling, dertig jaar gelede, te herdenk. Keer op keer het die skrywers benadruk dat nie genoeg klem gelê word nie op, en te min gehoor gegee word aan die stemme en ervaringe van geweldadige misdadigers se slagoffers. Om die een of ander makabere rede, word sommige reeksmoordenaars beroemd, en soms, soos Jack the Ripper (en Gert en Joey), lewe hulle baie lank in mense heugenis terwyl hul slagoffers naamlose nommers word. As enigiemand hieroor twyfel, vra maar net vir vriende en familie wie meer of minder bekend is as die ander: Gert van Rooyen en Joey Haarhoff of Tracey-Lee Scott-Crossley, Fiona Harvey, Joan Horn, Anne-marie Wapenaar, Odette Boucher en Yolanda Wessels?
Behalwe vir bogenoemde, was dit 'n uitstekende leeservaring en 'n boek wat ek in my boekrak wil hou. Pieter van Zyl se navorsing was deeglik omdat hy in alle moontlike hoeke gaan krap het vir nuwe inligting. Hierdie was 'n moedige onderneming, en die skrywer het sy kaarte reg gespeel met 'n niksseggende benadering en saaklike skryfstyl. Die feite en gebeure wat daarin opgeteken staan, dien as 'n geloofwaardige, openbare dokument vir die publiek om te lees en oordeel, en kan in die toekoms ten goede aangewend word.
Die tagtigs in suider Afrika was 'n onrusbarende dekade wat onherroeplike veranderinge teweeggebring het, en, op hierdie oomblik, met die koronawierus wat tans verwoesting saai dwarsoor die wêreld, blyk die nuwe dekade gegiet te wees in dieselfde vorm. Ten spyte van alles, hoop ek, nes Pieter van Zyl, dat inligting vorendag sal kom om hierdie tergende raaisel in ons midde op te los.
Hierdie resensie was geskryf deur Anya Links. Gert & Joey: Nuwe Lig op 'n Raaisel van Dertig Jaar (Zebra Press, 2018) geskryf deur Pieter van Zyl, is tans beskikbaar by Book Buddy in Liliencron straat, Eros, Windhoek: bookbuddynamibia@gmail.com.

***

Comments
Post a Comment